Saturday, October 26, 2013

Argentinië 2013: Kerke kyk in Córdoba

Argentinië 2013: Kerke kyk in Córdoba




Dia del Madré! Of dan op 'n Moedersdag Sondag arriveer ons in Córdoba. Tweede grootste stad met 7 universiteite en 'n magdom kerke, iets soos 360 katolieke kerke in totaal.  En dis is dit eintlik.  Veel meer kon ons nie vind nie.  Maar tog ook 'n lekker stad, as dit dan eers weer maandag is en alle lewe teruggekeer het.

Ons het skuins na 8 uur die oggend arriveer by Hotel Savannah en kon sommer dadelik incheck -  vermoed dat almal hier gewoond is aan die vroeë tye wat die busse arriveer en niemand kyk jou vreemd aan as jy al om 8 uur die oggend wil incheck nie.  Hotel was ook goed geleë - loopafstand van die bus terminus aan die een kant en loopafstand van die stad sentrum aan die ander kant.  Na die inhaal van bietjie slaap het ons probeer om buskaartjies vir die volgende skof te koop en wasgoed te was, maar gou agtergekom dat daar nie so veel gebeur op 'n sondag nie.  Darem 'n heerlike moedersdag lunch gehad by Naranja, 'n restaurantjie wat ons toevallig teëgekom het en so lekker geëet het dat ons die volgende dag sommer weer soontoe is.  Die res van die sondag het ons in die sentrum romdgedwaal en foto's geneem van al wat kerk, katedraal of ou gebou was.  Tussendeur in die park gaan lafenis soek teen die hitte.

Aan die einde van die dag het ons 'n kunsmark besoek met interessante lokale handwerk en antieke rommel en 'n hippie-agtige gevoel. Waar ek dan ook my cute klein pers leer handsakkie gekoop het.  Daarna nog rondgedwaal in straatjies met die cute-ste klein winkeltjies.

Maandag was die buskaartjies en wasgoed weer op die lysie.  Wat was ons verbasing toe ons ons neuse by die hotel uitsteek en in 'n totaal ander stad te lande kom! Bruisend en aan die gang, totaal teenoorgesteld van die vorige dag se ghost town!  By 'n effense dubieuse 'lavenderia' het ons feitlike die totale inhoud van ons rugsakke agtergelaat en met ons extreem karige spaans genoeg te wete gekom oor hoeveel ons moet betaal dat ons 9 uur die aand weer die was kon ophaal.  Die buskaartjies kon ons ook bekom by 'n reisagentvroutjie wat ewe moederlik nog 'n hele boel info gegee het oor moontlike plekke om te besoek en 'n papiertjie met daarom 'n aantal vrae in spaans oor busse en platforms ens.  Na 'n baie nice Kunsmuseun en park het ons begin voel ons het Córdoba nou bietjie gesien en vir Dinsdag 'n ekskursie na Valle de Punilla geboek om die omgewing noord van Córdoba te besigtig.

Dinsdag is ons 2 en nog 'n Brasiliaan toe deur Gavier opgehaal vir die trip wat ons nie so seker was die geld werd was nie.   Geen besondere scenery, maar wel 'n moerske steak ( vir my dan) en 'n hele bord vol van 'n hoenderschnitzel (Maarten)  vir lunch in 'n klein dorpie, Capilla del Monte,  bekend vir UFO spotting!  So sien jy dan in die winkelvensters 'n verskeidenheid van kitsch wat wissel van opgestopte ET's en klein groen mennetjies tot klippe met kragte en magte. Ons loop nog steeds met die vraag oor waar aan 'n hoender mens so 'n groot stuk vleis kan kry.

My persoonlike hoogtepunt was 'n stop by 'n archeologiese museum met 'n ongelooflike verskeidenheid van edelstene en half-edelgesteentes in alle vorme -  van die rou stene soos dit uit die grond kom tot geslyp in verskillende vorme en verwerk in (soms) wonderlike stukke juweliersware. 'n Plek waar ek myself 'n hele dag sal kan vermaak en waar ek regtig spyt is ek geen fotos kon neem nie.

Na die trippie het ons net genoeg tyd gehad vir 'n koue biertjie en 'n stort voor ons weer die rugsakke moes hys vir die staptog na die busterminus en ons busrit die aand om 21:00 verder noord na Salta.


No comments:

Post a Comment